Jesus se hoëpriesterlike gebed vir eenheid

 

 

Aanhalings Uit Die Bybel, God se Woord

“1  Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: « Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. 2 U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. 3 En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.” (Johannes 17:1-3 AF83)

“6  « Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem. 7 Nou weet hulle dat alles wat U My gegee het, van U kom; 8 want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee. Hulle het dit aangeneem en tot die oortuiging gekom dat Ek waarlik van U gekom het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

9 « Ek bid vir hulle. Ek bid nie vir die wêreld nie maar vir dié wat U My gegee het, omdat hulle aan U behoort. 10 Almal wat aan My behoort, behoort aan U; en wie aan U behoort, behoort aan My; en Ek word deur hulle verheerlik.” (Johannes 17:6-10 AF83)

“Ek bly nie langer in die wêreld nie, maar hulle bly nog in die wêreld. Ek kom na U toe. « Heilige Vader, bewaar hulle in u Naam, die Naam wat U My gegee het, sodat hulle net soos Ons een kan wees.” (Johannes 17:11 AF83)

“15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16 Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie.

17  Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid. 18 Soos U My na die wêreld toe gestuur het, het Ek hulle ook na die wêreld toe gestuur;” (Johannes 17:15-18 AF83)

“20  « Ek bid egter nie net vir hulle nie, maar ook vir dié wat deur hulle woorde tot geloof in My sal kom. 21 Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” (Johannes 17:20-21 AF83)

“22 Die heerlikheid wat U My gegee het, het Ek ook aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees net soos Ons een is: 23 Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.” (Johannes 17:22-23 AF83)

“25 « Regverdige Vader, die wêreld ken U nie, maar Ek ken U, en hulle hier weet dat U My gestuur het. 26 Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak, en Ek sal dit verder bekend maak, sodat die liefde wat U aan My bewys het, in hulle kan wees en Ek ook in hulle. »” (Johannes 17:25-26 AF83)